Tax & Advisory » Industry News » Bewoording van trustaktes uiters belangrik

Bewoording van trustaktes uiters belangrik

Sonja Frank Die bevindings in ’n inkomstebelastingsaak wat onlangs gepubliseer is (ITC 1840), het opnuut bevestig hoe belangrik dit is dat die bepalings van ’n trustakte reg bewoord word en dat die trustees binne hierdie bepalings optree.

In 1996 wou die trustees van Trust X sekere toekennings aan die trust se begunstigdes, die kinders van die aanvanklike stigter, maak. Die trustees was egter onder die bona fide maar verkeerde indruk dat ook die onderskeie trusts van die kinders begunstigdes van Trust X is. Sekere toekennings is toe aan die kinders se onderskeie trusts gemaak en nie aan die kinders persoonlik nie.

Die Gautengse Belastinghof het bevind dat hierdie toekennings inderdaad ultra vires (buite die magte van die trustees) gemaak is en dat dit derhalwe neerkom op skenkings. Die trustees en begunstigdes het ’n duur les geleer: die skenkingsbelasting teen die destydse koers van 25% (nou 20%) waarvoor die Trust aangeslaan is, beloop R78 682 849 en die rente daarop R93 862 092.

Die trustees het reeds in 2006 daarvan bewus geword dat die toekennings buite die magte van die trustees gemaak is. Desnieteenstaande het die trustees – in samewerking met die ouditeure van die trust – voortgegaan om die 2006- en 2007-finansiële state sonder rektifikasie af te teken. Die hof het gevolglik bevind dat die trustees se versuim daarop neerkom dat hulle afstand gedoen het van hul reg om die finansiële state reg te stel.

Die hof gaan inderdaad ’n stap verder en bevind dat, selfs indien geargumenteer kan word dat die toekennings wat gemaak is nietig is tussen die partye, dit steeds fiskale gevolge kan hê.

Aangesien sowat R172 000 000 nou op die spel is, sal die belastingpligtiges moontlik appelleer. Ons sal u op die hoogte hou van verdere verwikkelinge.

Navrae kan gerig word aan Sonja Frank by die Stellenbosse kantoor, tel. 021 882 8140 of e-pos sonja@exceed.co.za.