Tax & Advisory » Industry News » Interne oudit voeg waarde toe

Interne oudit voeg waarde toe

Gerrit van RhynEen van die belangrikste wysigings aan die Maatskappywet wat gedurende die jaar in werking getree het, is die vrystelling van statutêre oudit vir maatskappye wat nie as openbare weldaadsorganisasies (non-public benefit organisations) geklassifiseer is nie.

’n Jaarlikse oudit behels ’n ondersoek om te bepaal of die finansiële state ’n redelike weergawe van ’n instansie se finansiële status is. Dit kan ook tekortkominge in interne kontrole uitwys en wesenlike bedrog blootlê. Volgens die Maatskappywet is dit die direkteure van maatskappye se plig om finansiële state op te stel. Dié plig word in baie gevalle aan ouditeure gekontrakteer. Sonder ’n statutêre oudit kan daar moontlik ’n leemte ontstaan indien alternatiewe prosedures nie ingestel word nie.

Tans bestaan daar heelwat onsekerheid oor die reaksie van veral finansiële instellings wat tradisioneel op geouditeerde state staatgemaak het. Die nuwe Maatskappywet maak wel voorsiening vir ’n beperkte oorsig, maar dit is tans onduidelik wat dit sal behels.

King III

’n Belangrike aspek van die King III-verslag, wat vroeër vanjaar gepubliseer is en oor die beginsels van korporatiewe bestuur handel, is die vereiste vir doeltreffende risikobestuur. Volgens die verslag is risikobestuur onafskeidbaar van die maatskappy se strategiese en besigheidsprosesse. Dis die taak van die direksie om toe te sien dat daar ’n doeltreffende risiko-gebaseerde interne ouditfunksie bestaan. Die interne ouditspan moet verder uit bevoegde en onafhanklike persone bestaan.

Tenk Loubser en Assosiate glo dat ’n doeltreffende interne ouditfunksie besonder waardevol vir besighede kan wees; daarom is ’n volwaardige interne ouditafdeling onlangs by dié firma ingestel. Die interne outditfunksie kan ooreenkomstig organisasies se programme en begrotings beplan word, terwyl spesiale aandag aan spesifieke risiko-areas geskenk kan word.

Vir meer inligting, kontak Gerrit van Rhyn van Tenk Loubser (Kaapstad) Ingelyf by gerrit@exceed.co.za of tel. 021 915 6666.