Tax & Advisory » Industry News » Studiebeurse deur werkgewers

Studiebeurse deur werkgewers

Sonja FrankDeur Sonja Frank

Studiebeurse wat deur werkgewers aan hul werknemers – of dié se familielede – toegestaan word, is vrygestel van inkomstebelasting.

Artikel 10 van die Inkomstebelastingwet bepaal dat werknemers vrygestel word van inkomstebelasting op studiebeurse wat hulle van werkgewers ontvang. Die enigste voorwaarde is dat werknemers hul werkgewers terugbetaal indien hulle hul studies staak vir redes wat nie die dood, beserings of ernstige siekte insluit nie.

Beurse kan voorsiening maak vir die volgende uitgawes: onderriggelde, registrasiefooie, eksamenfooie, boeke, toerusting soos sakrekenaars, verblyf, etes en vervoer.

In die geval van ’n werknemer wat nie meer as R100 000 per jaar verdien nie, kan ’n studiebeurs ten bedrae van soveel as R10 000 aan die persoon se familielid toegestaan word sonder dat dit as deel van die werknemer se inkomste beskou word.

Met dié vrystelling in die Inkomstebelastingwet wil die SAID die investering van werkgewers in werknemers se opleiding en opvoeding – en dié van hul familielede – aanmoedig.

Persone of instansies wat studiebeurse aan behoeftige mense in die algemeen beskikbaar wil maak, kan ’n trust oprig en om Publieke Weldaadsorganisasiestatus aansoek doen. So ’n trust moet oor minstens drie onafhanklike trustees beskik ten einde die trust se doelstellings uit te voer. Indien die SAID dit goedkeur, kan alle skenkings wat aan so ’n trust gemaak word, kwalifiseer as ’n aftrekking vir inkomstebelastingdoeleindes.

Vir verdere inligting, skakel Sonja Frank by die Stellenbosch-kantoor by tel. 021 882 8140 of sonja@exceed.co.za.